Reuse met Voete van Klei

Mense sien geestelike leiers soos predikers en leraars, as geestelike reuse wat koeël bestand, sterk en self voorsienend is. Aangesien hulle so oënskynlik sterk en onafhanklik voorkom, dink mense dat sulke leiers nie ander mense se hulp, ondersteuning, bemoediging of raad nodig het nie.

Ek is seker dat mense presies dit in Paulus gesien het wanneer hy met soveel gesag en versekering dinge kon sê soos: “As iemand aan julle 'n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het - die vloek van God sal hom tref!” (Gal 1:9); of enige ander van sy baie dapper, self geldende en beslissende stellings. Wanneer mens kyk na die oorweldigende dapperheid wat hy openbaar het toe hy mense wat hom belaster het, sy vervolgers, marteling, en selfs Caesar self in die oë gekyk het, dan kan mens nie anders as om te voel dat hierdie reus (want dit is wat hy inderdaad was) geen vrese, onsekerhede, twyfel en persoonlike stryd gehad het nie.

Dit lyk asof hy hierdie dinge net afgeskud het en voort gebeur het, amper  soos die een of ander held in ‘n strokiesprent, terwyl die koeëls, beledigings en vyandigheid doodeenvoudig van hom weggeskram het. Dink aan die keer toe hy gestenig is en vir dood buite die stad gesleep en sy liggaam op die ashoop gelaat is (Hand 14:19). Tog het God hom weer opgewek (glo ek) en hy het reguit teruggeloop, die stad in. Sekerlik is hy die ware Superman? Die ander keer is hy byna dood geslaan en toe aan die klipvloer van ‘n tronk vasgeketting. Hy het begin liedere sing (Hand 16:23-25). Hierdie man was verseker nie soos enige van ons nie – hy moes bo-menslik, onoorwinlik en onaantasbaar gewees het.

Baie keer kyk ons ook na ons leraars en predikers op dieselfde wyse. Dit lyk asof hulle in staat is om alle situasies te hanteer en dat niks hulle van stryk kan bring nie. Baie keer werk mense doelbewus daaraan om hierdie beeld na buite te kweek. Partykeer is dit om hulle eie pyn, vrese en twyfel te verbloem. Partykeer is dit omdat hulle voel dat hulle as leiers ‘n sterk beeld moet uitdra ten einde ander te bemoedig om nie swak te word en te vlug wanneer hulle teenstand en uitdagings teëkom nie. Dit blyk dat die engelse spreekwoord “cowboys don’t cry, especially not in front of their horses” hier toepassing vind. Partykeer voel hulle dat hulle nodig het om hulle kwesbaarheid weg te steek aangesien diegene wat hulle boodskap teëstaan, die vertoon van sulke swakhede sal uitbuit. Ek sien ‘n bietjie van Paulus hierin. Sommige het hom beskuldig dat hy ernstig en streng in sy skrywes is maar mak wanneer hy in persoon by hulle is. Hy antwoord: “Die man wat so praat, moet weet dat daar geen verskil is tussen wat ons in briewe skrywe as ons van julle af weg is, en wat ons doen as ons by julle is nie” (2 Kor 10:11).

‘n Sterk beeld na buite is dalk die gevolg van opvoeding of kulturele agtergrond. In baie kulture word mans nie toegelaat om emosie te wys nie, veral nie die emosies wat swakheid, kwesbaarheid en hartseer openbaar nie. Laastens is daar sommige leiers wat ‘n geweldige las dra weens die staat waarin die kerk en die Christene is, terwyl ander so misbruik is dat hulle opgehou het om pyn na buite te toon maar voortdurend in hulle diepste binneste rou en huil. Om te preek is ‘n ernstige saak en geen prediker wat sy sout werd is kan anders as om diep bekommerd te wees oor die verval, ongehoorsaamheid en oppervlakkigheid van die mense rondom hom nie.

Beteken dit alles dat hulle super helde, of selfs menslike masjiene is wat net kan aanhou sonder dat hulle die houe voel? Nee. Om die waarheid te sê, hierdie mans is dikwels meer kwesbaar en het ‘n groter behoefte aan gebed, ondersteuning en aanmoediging as wat enige een sal besef. Dit is omdat God, in Sy wysheid, swak instrumente bo die sterk en kragtiges kies. Paulus het in moderne terme nie ‘n goeie selfbeeld gehad nie, ten spyte van sy opvoeding, kragtige roeping, gawes en die openbaarmaking wat hy ontvang het. Van homself en die ander leiers skryf hy: “Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het” (1 Kor 15:9) en “Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is…” (Ef 3:7) en “As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan” (2 Kor 11:29).

In 1 Kor 1:26-29 sê hy: “Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie.” Hier vind ons die sleutel. Die Here roep en gebruik die swak instrumente sodat niemand in hulleself die eer sal soek nie en indien hulle wil roem, hulle in die Here se voorsienigheid en krag sal roem en nie in hulle eie nie.

In 2 Kor 12:7 sê hy: “Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan.” Hieruit, en ook vanuit ander Skrifgedeeltes, kan ons die afleiding maak dat hoe meer kragtig die Here iemand roep, hoe groter sal die probleme wees wat hy moet oorkom ten einde gebroke en nederig voor God te bly. As die seën van iemand se bediening nie gebalanseer word deur probleme en uitdagings nie, dan stuur hy op ‘n ramp af. Hierdie probleme kan enige van verskeie vorme aanneem. Paulus som dit op: “Van alle kante was daar druk op ons: van buite onenigheid, van binne sorge” (2 Kor 7:5). Jy het miskien nog nooit daaraan gedink dat Paulus ‘n stryd met vrees en onsekerheid gehad het nie. Hy het. En as Paulus hierdie stryd gehad het, dan kan ons maar seker wees dat mindere sterflinge dit ook het. Leiers is nie minder sensitief vir swaarkry, beproewing, mismoedigheid en aanvalle nie. Hulle voel hierdie dinge baie sterker as baie ander.

Geen leraar or prediker is onoorwinlik nie. Hy het jou ondersteuning, bemoediging en gebede baie meer nodig as wat jy sou dink. Paulus praat van die glorie van die gawes wat God in die lewens van Sy diensknegte geplaas het, en in homself in besonder, maar “ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie” (2 Kor 4:7). Geestelike leiers mag dalk soos reuse lyk, maar hulle het voete van klei en hou die gawe van God in ‘n swak, broos en baie menslike houer.

As jy geseën is deur is preek, boek, opname of enige ander vorm van bediening, dan moet jy die outeur daarvan vertel of vir hom skryf. Moenie dink dat omdat hy ‘n “groot bediening” het, of omdat hy ‘n boek geskryf het, of omdat hy ‘n hoë profiel handhaaf, dat hy nie bemoediging nodig het nie – hy het. Partykeer dink ek dat Christene dit as hulle plig sien om predikers nederig te hou. Maar daar is geen Skrifgedeelte wat aan ons die opdrag gee om mekaar nederig te hou nie! Dit is God se werk. Ons werk is om op te bou, te bemoedig en mekaar te vertroos. Leiers is niks anders as ander gewone mense nie. Hulle is net dit – mense.